Verset werk!

Die onverkwiklike gebeure by Hoërskool Overvaal in Vereeniging, het darem een positiewe aspek na vore gebring. Dit is dat verset wel werk.

Politieke druk van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyazo Lesufi, is suksesvol weerstaan met ‘n hofsaak. Die hof het besluit dat die skool, wat reeds vol is met Afrikaanstalige leerlinge, nie nodig het om spesiale reëlings te tref om 55 Engelstalige leerlinge in te neem nie.

Soos dit al wêreldwyd praktyk geword het, kan linksgesindes hulle nie berus by ‘n uitslag van die hof of die kieserskorps nie.

Toe Donald Trump deur die kiesers van Amerika as president aangewys is, het linkses die strate in gegaan in protes wat nie altyd vreedsaam was nie. Toe die linkse Barack Obama destyds gekies is, was daar geen regse opstande nie…

Toe die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AfD) besonder goed gedoen het by die stembus, was dit die onverdraagsame en ondemokratiese linkses wat protes aangeteken het.

Demokrasie geld skynbaar net as die linkses hulle sin kry. As dit beter gaan met nasionaliste, regses of volksgesindes, dan mag die demokrasie bevraagteken word met protesoptredes wat dikwels gewelddadig word.

Netso was dit die linkse en kommunisties gesinde ANC en EFF wat nie die uitspraak van die hof kon eerbiedig nie en het ook die straat voor die Overvaal skool beset, bande gebrand en deur hulle intimidasie gepoog om die Afrikaanse leerlinge te verhoed om skool toe te gaan.

Die ouers van die skool het hulle egter nie daardeur laat intimideer nie. Hulle het posisie aan die ander kant ingeneem en gesorg dat hulle kinders veilig by die skool kon in en uit gaan. Dit was dus die tweede vorm van verset, na die oorwinning in die hof.

Die ouers het nie nodig om gewelddadig te raak nie, maar tog was hulle ferm, waarvoor hulle voorwaar lof verdien.

Steeds is die ANC en EFF in die strate, soveel so dat die skool inderdaad vandag om veiligheidsredes gesluit word.

Die ANC en EFF word met radikale uitsprake van Lesufi aangepor om vol te hou met die protes, want Lesufi het self gesê dat die stryd oor die skool nie verby is nie, en dat hy by implikasie dieselfde ouers se belastinggeld gaan gebruik om hulle te betwis in ‘n hoër hof, en as dit moet tot in die Grondwetlike Hof.

Wat opmerklik is, is dat die Overvaal skool, goeie onderrig bied en sy leerlinge presteer. Daar is ‘n leerkultuur by beide leerlinge en onderwysers. Dit moet afgebreek word deur die vernietigingskultuur wat duidelik sigbaar is buite die skool se hek.

Maar tog is die stille en beskaafde vasberadenheid van die ouers iets waarvan ons kan kennis neem as ‘n voorbeeld van verset. Verset het verskillende vorme, en hierdie vorm van verset het gewerk. Ons hoop dat hulle daarmee sal volhou en nie sal verkrummel nie, en dat hulle toenemend deur volksgenote gesteun sal word.