Russiese hof beslis teen opposisieleier

Die hooggeregshof van Rusland het die vorige hofbeslissing gehandhaaf dat die leier van die opposisie, Alexei Navalny, nie as kandidaat mag deelneem aan die presidentsverkiesing in 2018 nie.

Die beslissing baan die weg vir president Vladimir Poetin om ’n groot oorwinning te behaal in sy vierde termyn as president.

Alexei Navalny het ’n terugslag beleef toe die hof die afgelope Saterdag beslis het dat hy nie as kandidaat mag staan nie weens beweerde korrupsie waaraan hy vroeër skuldig bevind is.

Die Russiese kieswet bepaal dat niemand as presidentskandidaat mag staan indien hulle skuldig bevind is aan ’n misdryf van enige aard nie.

Opposisie ondersteuners beweer die Russiese polisie is aangesê om Navalny te vervolg sodat hy nie aan die verkiesing mag deelneem nie, uit vrees dat hy Poetin se meerderheid kan knak.

Intussen gaan Alexei Navalny voort met ’n verkiesingsveldtog en reis hy deur die land om mense te oorreed om nie vir Poetin te stem nie.

Waarnemers is dit eens dat president Poetin die verkiesing maklik sal wen en dat ander kandidate se pogings geen invloed sal uitoefen op die finale uitslag nie.

Alexei Navalny se regsverteenwoordiger het later gesê die hof se beslissing was ’n politieke besluit en daarom gaan hy voort om appel aan te teken in die hoogste hof.

Foto – Alexei Navalny