Regering van Mali bedank

Die onverwagse bedanking van die eerste minister en sy regering het ’n skokgolf deur Mali gestuur, veral omdat die regering geen rede aangevoer het vir hulle drastiese besluit nie.

Mali is slegs enkele maande weg van die komende presidentsverkiesing wat daarop ingestel is om die huidige vredesooreenkoms en stabiliteit te versterk.

Die eerste minister, Abdoulaye Idrissa Maiga, en sy regering het verlede Vrydagmiddag hulle bedanking by die president se kantoor ingehandig.

President Ibrahim Boubacar Keita het die regering wat sedert April aan bewind is, se bedanking aanvaar.

Mali het reeds ’n algemene verkiesing vir Junie 2018 geskeduleer, wat die onverwagse bedanking van die regering nog meer vreemd laat lyk, maar kenners meen dit is gedoen om ’n vervroegde verkiesing te hou wat die opponente onverhoeds betrap.

Intussen word sowat 1 000 troepe uit Duitsland en ’n paar duisend troepe van die Verenigde Nasies in Mali gehou om die brose vrede te probeer bewaar.

Foto – Ibrahim Boubacar Keita