Ramaphosa wil gronddiefstal wettig

Onder die dekmantel van “wetlike onteiening” (boonop sonder vergoeding), beloof die nuutverkose ANC president dat grond in privaatbesit “gevat” gaan word.  In gewone Afrikaans beteken dit die wettiging van diefstal.

Dit is die kommentaar van mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, nadat die nuwe ANC-leier, Cyril Ramaphosa, die aankondiging gemaak het.

“In dieselfde asem word bepaalde voorwaardes gestel, naamlik dat die ekonomie nie geskaad moet word nie en dat voedselsekerheid nie nadelig geaffekteer moet word nie.

“Gegewe erkenning deur die regering self, dat die produktiewe benutting van landbougrond wat ingevolge die restitusieproses reeds aan begunstigdes oorgedra was, asook die kortstondige beskikbaarstelling van miljarde rand se hulpverlening aan mense wat nie kan of wil boer nie, klaaglik misluk het, beloof hierdie nuwe belofte niks goed vir Suid-Afrika nie”, sê mnr. Meintjes.  Hy vra voorts “Waar in die wêreld het onteiening sonder vergoeding, en die voortgesette verval van landbougrond tot buitelandse vertroue, ekonomiese groei en hoër voedselproduksie gelei?”

Mnr. Meintjes beklemtoon dat die tyd aangebreek het dat Suid-Afrika die werklike uitdagings wat die land in die oë staar, identifiseer vir wat dit is.  Nie alleen word wetsgehoorsame burgers in hul eie land, ongeag die “nie-rassige” hoeksteen van ‘n sogenaamde “modelgrondwet” aan verskeidenheid wette wat blatant pro-swart en anti-Afrikaans is, onderwerp nie, maar stel ‘n snelgroeiende bevolking toenemende eise aan ‘n baie klein belastingbasis.  Daardie proses spoed voort terwyl die RSA se “rommelstatus”, toenemende landelike armoede, die verval van infrastruktuur, verlaging van skolastiese en akademiese standaarde, die lewering van basiese dienste, bandelose misdaad en ‘n skreiende gebrek aan toekomsbeplanning aan die orde van die dag is.

“Geen ideologie, gerugsteun deur oppervlakkige populistiese beloftes wat nie met ekonomiese beginsels tred hou nie, gaan vir ons heil sorg nie.  As mnr. Ramaphosa regtig ‘n onhanteerbare situasie wil skep, dan moet hy aktief meewerk om hongersnood te bevorder.  Sy belofte om grond sonder vergoeding te onteien, skep potensiaal om opnuut rewolusie te ontketen.  Onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding, is diefstal.”

Foto: Mnr. Louis Meintjes