Noord-Korea sal praat met Suide

Die kommunistiese Noord-Korea se leier, Kim Jong-Un, het in ’n verklaring gesê die rooi knoppie is gedurig op sy lessenaar om ’n kernoorlog teen Amerika te begin, maar het ook te kenne gegee dat hy bereid is tot samesprekings met sy suidelike buurstaat, Suid-Korea.

Die nuwe wending volg kort nadat Suid-Korea twee olie tenkskepe wat klaarblyklik hulle voorraad wou aflaai in Noord-Korea, voorgekeer het en daarop beslag gelê het weens die Verenigde Nasies se sanksies teen die kommunistiese staat.

Politieke ontleders meen die druk het nou sodanig toegeneem op die leier dat hy genoodsaak word om te begin met onderhandelings wat kan lei tot sy instemming om die kernwapenprogram te staak.

Waarnemers meen egter die kommunistiese staat sal nie bereid wees om sy kernprogram te stop nie, veral nadat hy daarin geslaag het om ballistiese missiele te ontwikkel wat die VSA kan tref.

Die president van Suid-Korea het gesê sy land is gereed vir samesprekings met die noordelike buurstaat.

Foto- Kim Jong-Un