Noord-Korea kry sy sin in onderhandelings

Die twee Koreaanse state het gister byeengekom om oor verskeie aspekte te onderhandel, en Noord-Korea het in die eerste fase sy sin gekry deur ’n groot afvaardiging van joernaliste, ondersteuners, en slegs twee deelnemende atlete na die Olimpiese Winterspele in Suid-Korea te stuur.

Die twee afvaardigings het ook gesprek gevoer oor die heropening van die “militêre kommunikasielyn” wat reeds vir meer as twee jaar gesluit is nadat spanning tussen die lande byna breekpunt bereik het.

Die twee lande het ook besprekings gevoer oor hoe die versplinterde familiebande herstel kan word, en is ’n nasionale gedenkdag geïdentifiseer om families oor die grens toe te laat na lang afwesigheid van mekaar.

Die twee lande wil ook verdere gesprekke voer oor hoe die militêre spanning tussen die twee lande uit die weg geruim kan word, en wil ook kulturele bande herstel.

Politieke ontleders meen alhoewel die Noord-Koreaanse afvaardiging “met grasie” hulle sin gekry het om twee atlete te laat deelneem aan die Spele, was dit slegs ’n deuroopmaker om die “koue oorlog” tussen die twee state te beëindig sonder om aansien te verloor.

Waarnemers betwyfel dit egter of die kommuniste uit die Noorde se gesprek ewe goed sal verloop oor die beëindiging van hulle kernwapenprogram, terwyl sommige ontleders dit betwyfel of so ’n gesprek wel sal plaasvind.

Die mening is uitgespreek dat Noord-Korea eerder wil poog om gesprekke met die Suide te voer met die hoop dat die strawwe sanksies teen sy land opgehef of minstens verlig word.