Merkel se einde in sig

Toenemende druk word in Duitsland ervaar dat Bondskanselier Angela Merkel moet bedank, en ’n opvolg meningspeiling toon dat sy nie die huidige vier jaar termyn gaan oorleef nie.

Die peiling laat die Duitse kiesers met bekommernis, aangesien daar geen duidelikheid bestaan oor wie haar amp kan oorneem en die land suksesvol bestuur nie.

Die nuutste peiling toon dat Merkel se ongewildheid verder toeneem, en soveel as 47% van die deelnemers aan die peiling verkies dat sy uittree as kanselier voor die huidige termyn verstryk het.

Slegs 36 % wil sien dat sy die volle termyn as kanselier dien, maar die druk is aan die toeneem en waarnemers meen die eindtyd breek aan vir haar die oomblik as ’n waardige, en bekwame persoon geïdentifiseer is.

Merkel se steun het in die jongste tyd ’n skerp daling getoon nadat sy nie daarin kon slaag om met die linkse Groen party en die Vrye Demokrate ’n koalisie ooreenkoms aan te gaan nie.

Met die aankondiging dat sy nou ’n ooreenkoms wil aangaan met haar party se politieke vyand, die Sosiaal Demokrate, het haar geloofwaardigheid en gevolglik die steun, ’n ernstige knou gekry wat nie maklik sal herstel nie.

Dit is egter nie ’n uitgemaakte saak dat Merkel en Martin Schulz van die Sosialiste wel ’n ooreenkoms gaan bereik nie, en as dit nie realiseer nie, gaan die eindfluitjie blaas vir Angela Merkel.