Mees gevreesde Mafia vasgetrek

Een van die mees gevreesde Mafiabendes in Italië is in ’n gesamentlike poging met Duitsland behoorlik vasgevat en meer as 200 bendelede is in hegtenis geneem.

Die bende wat waarskynlik ook die mees berugte Mafiabende van Europa is, het hulle rieme styf geloop toe ’n anti-Mafia operasie gesamentlik deur Duitsland en Italië van stapel gestuur is..

’n Woordvoerder van die Italiaanse polisie sê die operasie was uiters suksesvol toe meer as 200 lede van die Mafia wat hoofsaaklik in wyn, voedselware en selfs begrafnisdienste bedrywig is, vasgevat is.

Klaarblyklik het die Mafiabende miljoene euro ingepalm met sy verskillende bedrywe, wat geïnfiltreer is.

Die Mafiafamilies Farao en Marincola, wat in beide lande geïnfiltreer en bedrywig is, het verskeie instansies geïnfiltreer en later gemanipuleer om sodoende miljoene euro te versamel.

Die polisie het op sowat 50 miljoen euro se besittings beslag gelê en hou ’n streng oog oor die lede wat in hegtenis geneem is.