Massiewe storm plunder Europa

’n Groot deel van Nederland het gebuk gegaan onder ’n verwoestende storm wat bestempel is as een van die ergstes in jare.

Minstens twee mense het omgekom en miljoene euro se skade is aangerig aan infrastruktuur.

Die Noord-Holland provinsie asook Utrecht, Vlieland, en Gelderland is van die provinsies wat die ergste deurgeloop het .

Groot skade is aangebring met verkeersontwrigting terwyl treinverkeer grotendeels tot stilstand gedwing is.

Op verskeie plekke was die windsterkte gemeet tot 130 kilometer per uur en het ure lank gewoed wat mense verplig het om binnenshuis te bly.

Een van twee oorledenes, ’n 62-jarige man, het omgekom  toe ’n boom op sy motor geval het wat deur die wind omgewaai is.

Die lugverkeer was vir ure gestop en ’n woordvoerder sê duisende mense moes wag om ’n vlug te kry wat eers kon plaasvind toe die ergste stormwinde bedaar het.

Versekeraars meen die totale skade beloop meer as 50 miljoen euro, maar sê ’n finale syfer sal eers later beskikbaar wees.

Groot dele van Duitsland is ook getref deur die storm, en trein- sowel as lugverkeer het vir ure tot stilstand gekom terwyl talle mense omgekom het en ander met beserings in hospitale opgeneem is.

Voorlopige beramings dui daarop dat miljarde euro se skade opgedoen is deur die stormwater en sterk wind, maar weerkundiges sê dit het nie orkaansterkte bereik nie.