Jongsnoekkruid / Pontederia cordata

Jongsnoekkruid is ‘n indringerplant ‘n Kategorie 1b plant, wat beteken jy moet verwyder om vervolging te voorkom. Dit is in die familie Pontederiaceae en die genus is Pontederia. Dit vertoon wel pragtig en ‘n mens sal nogal jammer wees om dit te verwyder. Dit is egter ‘n groot probleemplant omdit ‘n digte groei vorm wat ander spesies versmoor.

In Amerika het hierdie plant ‘n kostelike naam, nl. “pickerelweed”. Jongsnoekkruid is ‘n waterplant en inheems van Amerika. In groot gedeeltes van Kanada en Argentinië word dit in die mere en damme en ook in die vleilande aangetref en dit staan in massas aangeplant. In Suid Afrika word hierdie plante aangetref in Natal en groot gedeeltes van Transvaal.

Dt is ‘n meerjarige waterplant wat tot 2 meter hoog kan groei. Die blare van hierdie plante is lig geel/groen en dit is spiesvormig. Dit vorm massas blou/pers blomme wat ons aan laventel blomme laat dink. Die blomritse  is 5 – 15 cm lank op die bopunt van die gelerige stingels.Die blommetjies is fyn en nogal mooi. Dit word gewoonlik in dammetjies in die tuin geplant. Die blomme verskyn in die laatsomer. Dit lok bye vir bestuiwing.  Na die blomtyd vorm daar sade wat eintlik dormant is. Dit kan verdeel word by die wortelstelsel om te vermeerder.

Waar daar ‘n oorvloed water is groei Jongsnoekkruid op hulle beste en vertoon mooi in die visdammetjies en groot waterdamme. Hulle floreer in die baie water. Jongsnoekkruid kan diep in water geplant word met baie min grond onder by die wortelstelsel. Hulle verskyn in die laatsomer. Ander plante sal hulle nie maklik verdring nie, maar die Jongsnoekkruid is die een wat die ander plante verdring. Dit sal byvoorbeeld waterblommetjies heeltemal verdring en uitroei.

Tuiniers let maar op vir die indringerplante al is hulle ook hoe mooi want dit is hulle wat u tuin oorneem en verniel. Geniet u tuin tot volgende keer.