Gaan Pole die Britte se Brexit volg?

Die konserwatiewe regering van Pole is bekend daarvoor dat hulle geen liefde het vir die Europese Unie (EU) nie, en die afgelope jaar se gebeure in die land het veroorsaak dat die EU selfs strafmaatreëls teen die land wou instel.

Die EU se president Donald Tusk het ook ’n waarskuwende woord gespreek en gesê die moontlikheid is nie uitgesluit nie dat Pole sy eie Polexit gaan begin om die EU te verlaat.

Hy sê die moontlikheid sal groter word indien die Europese Unie sou besluit om fondse wat aan Pole betaal moet word, te wil terughou as strafmaatreël teen die land wat nuwe wetgewing ingestel het waarvolgens regters voortaan deur die parlement aangestel sal word.

Die EU was sterk gekant teen die wetgewing en het Pole gewaarsku dat strafmaatreëls teen hom ingestel sal word, wat onder meer sou behels dat Pole sy stemreg sou verbeur.

Hongarye het daarop gereageer en gesê so ’n maatreël sal nie goedgekeur word nie, want hy sal dit veto in die EU vergadering.

Donald Tusk, ’n voormalige premier van Pole wat aan die hoof van ’n linkse regering gestaan het, word deur die kiesers van die land as ’n landverraaier beskou.

In ’n onderhoud wat ’n Poolse weekblad met Tusk gevoer het, sê hy die konserwatiewe regering van Pole beskou die EU slegs as ’n voordeel as die organisasie betalings aan hulle maak, asook die gemeenskaplike markte wat redelike sekuriteit bied.

Die nuwe eerste minister, Mateusz Morawiecki, was verlede week in Brussel om met die Europese Kommissie samesprekings te voer en meer duidelikheid te kry oor die liggaam se standpunte.

Dit is bekend dat die nuwe premier sterk gekant is teen die EU, en sal blykbaar nie huiwer om dit tasbaar te maak nie.

Foto – EU president Donald Tusk