Eie skole eie woonbuurte

Dit was die plakkate op die pale waarmee die NP van FW de Klerk die land mislei het sodat hy sy bedrieglike oorgawe kon deurvoer.

Vandag het ons lank al nie meer regtig eie woonbuurte nie, en binnekort sal ons ook nie meer ons eie plase hê, as De Klerk se onderhandelingsmaatjie, Cyril Ramaphosa, sy sin gaan kry met grondonteiening sonder vergoeding.

Van ons skole is ook nie veel meer oor nie. Dit verg duur oorloë in die howe om ons eie skole te probeer beskerm, maar die feite van die saak is dat ons skole se ouers en beheerliggame nie die geld het om elke keer tot die volgende hof deur te dring nie.

Daarteenoor het die Afrikanervyandige bewind toegang tot die staatskas wat met belastingbetalersgeld gevul word, en daardie geld word skaamteloos aangewend teen die belastingbetalers wat die geld daarin plaas.

Vandag moet Afrikaanse leerlinge van die Hoërskool Overvaal deur private sekuriteitsmaatskappye beskerm word sodat hulle basiese reg, om onderrig by ‘n skool te kry, uitgeoefen kan word. Intussen maak die Gautengse LUR vir onderwys, die Afrikanerhater Lesufi, hom weer reg vir die volgende hofsaak teen die skool, want hy wil gewoon geen Afrikaanse skool hê nie.

Intussen bly FW de Klerk, wat miljoene gekry het uit sy oorgawe en sy Nobelprys, en wat derduisende rande vra vir een van sy niksseggende toesprake, tjoepstil en probeer hy sy eie beloftes vergeet. Hy weet hy het destyds blatant,openlik en wetens gelieg!

Die FW de Klerk Stigting het ook geen poging aangewend om enige vorm van hulp aan te bied aan die betrokke skool nie, wat beteken dat sy verraad van destyds, in wese vandag voortduur met sy stilswyende goedkeuring, en sy versuim om sy miljoene aan te wend in ‘n poging om reg te maak wat hy opgemors het.

Die Nasionaaldemokratiese revolusie (NDR) van die ANC is in volle gang, en sal nie gerem word deur sy nuwe leier nie. Inteendeel, dit sal waarskynlik versnel.

Ons sal as volk groter samehorigheid moet openbaar, minder eie mishopies probeer ophou, minder venynig teen mekaar wees oor niksseggende strooi.

Die ANC-bedeling waarin ons sit, is nie tot ons voordeel nie. Ons kan hom nie “laat werk” nie, al wil ons ook. Ons moet daar uit, en hoe vinniger hoe beter.

Ons kan gaan leer by die Kataloniërs oor verset, en die weiering om te berus. Hulle is op pad na onafhanklikheid, al sê of doen Spanje wat. Ons, wat al ‘n Groot Trek deurgemaak het en twee Vryheidsoorloë deurleef het, en onsself kan handhaaf in meer as twee dekades van NP verraad en ANC/SAKP onderdrukking, kan dit ook doen!