Duitse Sosialiste skerp verdeeld

Alhoewel die vergadering van die Sosialiste ten gunste van gesprekvoering gestem het om met kanselier Merkel se Christen Demokratiese Unie (CDU) ooreenkoms te bereik, het skerp verdeeldheid oor die saak na vore gekom.

Die Sosiale Demokratiese Party van Martin Schulz het die afgelope naweek indringend besin oor die wenslikheid al dan nie, om met die CDU te onderhandel oor ’n moontlike koalisieregering vir Duitsland.

Verskeie leiers het gewys op die “gevare” om met die konserwatiewes van Angela Merkel saam te werk, terwyl ander gesê het die kiesers verwag van die Sosialiste om saam te werk.

Die CDU en sy vennoot, die Christen Sosiale Unie (CSU) van Bavaria sal in die volgende weke met die Sosialiste begin onderhandel met die oog op ’n ooreenkoms in die koalisieregering.

Dit is egter nie ’n uitgemaakte saak dat ’n ooreenkoms wel bereik gaan word nie weens die groot verskil in beleid tussen die twee partye, wat kan beteken dat kanselier Merkel se opsies verskraal word tot ’n minderheidsregering of ’n opvolg verkiesing.

Dit is reeds langer as vier maande sedert Duitsland ’n verkiesing gehou het, en steeds is daar geen goeie teken op die horison dat ’n kabinet saamgestel kan word nie.