Brandende skip kan ontplof

Die olie tenkskip wat Saterdag by die Sjinese ooskus met ’n vragskip gebots het, het aan die brand geslaan en kenners is bevrees dat die skip met sy duisende tonne olie, enige oomblik kan ontplof.

Die oliebesoedeling wat reeds plaasvind, kan, as die skip sou ontplof, die grootste olie besoedeling ter see wees wat nog ooit plaasgevind het.

Ook die 32 vermiste bemanningslede is nog nie gevind nie, en die hewige brand laat alle hoop kwyn om enige oorlewendes te vind.

Sjina het reddingskepe na die gebied gestuur, maar die giftige gasse wat deur die brand vrygestel word, en die massiewe rookkolom maak dit moeilik om enige taak suksesvol uit te voer.

Suid-Korea en Amerika het vliegtuie na die gebied gestuur om behulpsaam te wees, maar dit blyk ’n onbegonne taak te wees om die brand te blus.

Die 130 000 ton ru-olie aan boord is glo van Iran bekom en sou aan Suid-Korea gelewer word toe dit naby die monding van ’n rivier in Sjina teen ’n vragskip gebots het en dadelik aan die brand geslaan het.