Waarheen gaan Biitcoin?

Terwyl voormalige Nobelpryswenners in ekonomiese sake die koms van Bitcoin as nuwe betaalmiddel veroordeel en waarsku teen die gebruik daarvan, is daar ook verskeie lande se sentrale banke wat weier om handel te dryf in die stelsel.

Te midde hiervan sal ’n gedeelte van die handel in Bitcoin gedoen word in die grootste beurse van die Verenigde State.

Alhoewel die nuwe rigting nie beteken dat eienaarskap van Bitcoin aanvaar word nie, se kenners dit is die eerste stap na verdere toelating in die algemene handel wat met tyd in werking gestel gaan word.

Die Amerikaanse reguleerders het verlede Vrydag goedkeuring gegee aan planne vir Bitcoin om sekere handelstransaksies te doen, wat as ’n eerste deurbraak beskou kan word, maar wat die risiko daarvan nie verminder nie.

Waarnemers meen die toelating kan lei tot ’n verdere styging in die waarde van die “vreemde betaalmiddel” wat die wêreld aan die gons het.

Die gevaar bly egter soos wat die Amerikaanse Federale Reserwebank se goewerneur, Randal Quarles, gesê het dat wyer erkenning aan virtuele (digitale) betaalmiddels soos Bitcoin kan ’n bedreiging word vir die finansiële stabiliteit van die bestel, veral in tye van onsekerheid op die wêreldmarkte.