Venezuela politici hervat samesprekings

Die regering en opposisieparty leiers het samesprekings hervat in ’n poging om die politieke krisis, wat ook ’n ekonomiese krisis geword het, te probeer herstel na normale omstandighede.

Die ekonomiese krisis het sodanig versleg dat die regering teruggedwing is na die tafel om met opposisieleiers gesprek te voer, maar die verwagtinge is skraal dat werklike oplossings gevind sal word.

Die grootste opposisieparty, die Demokratiese Eenheid Rondetafel en president Nicolas Maduro se Sosialiste Party het twee dae geskeduleer om gesamentlik na oplossings te soek terwyl honderde mense van die opposisieparty in optogte deelneem wat reeds verskeie kere gewelddadig geword het.

Die samesprekings is geïnisieer deur die Dominikaanse regering en die voormalige president van Spanje, Jose Luis Rodriguez Zapatero.

Om meer geloofwaardigheid aan die gesprek te verleen, is verskeie Latyns Amerikaanse lande se leiers toegelaat om teenwoordig te wees, en is twee van president Maduro se bondgenote, Bolivia en Nicaragua ook toegelaat.

Die grootste kritici van Maduro, Meksiko en Chili is ook teenwoordig en vir die eerste keer is verteenwoordigers van die burgerlike groepe in Venezuela ook toegelaat.

Verskeie kleiner opposisiepartye boikot die samesprekings en bly gefokus op die maand se verkiesing wat in verskeie streke gehou gaan word.