Ramaphosa ANC-leier: wat nou?

Die ANC het sy nuwe leierskorps aangewys, en nou is die vraag natuurlik wat die toekoms nou gaan inhou?

Die feit is dat die uitslag baie interessant is, en “toevallig” is die verdeling net mooi gelykop tussen die Ramaphosa en die Zuma kampe, maar in wese tot voordeel van die Zuma kamp.

Die voorsitter van die ANC is nou Gwede Mantashe, wat dus as voorsitter in kritieke sake geneutraliseer is.

Verder is die twee voltydse topposte in Luthulihuis, naamlik die sekretaris-generaal en die adjunk, beide in die hande van Zuma gesindes.

Tydens ‘n gesprek wat die Boere-Afrikanervolksraad met destydse waarnemende president Cyril Ramaphosa gehad het, het hy dit baie duidelik laat verstaan: Luthulihuis gee die opdragte en selfs hy het sy opdragte daarvandaan gekry, het hy erken.

Dit beteken dat Zuma steeds die land regeer. Ramaphosa is weliswaar nou die president van die organisasie, en as die ANC weer die 2019-verkiesing sou wen, sou hy dan waarskynlik die land se president word.

Zuma is al voorheen ‘n fyn strateeg genoem, veral waar dit kom by sy belange en beskerming van sy bates, wat sy bas insluit. Dit sal dus nie verbaas nie as hy die hele verkiesing sodanig beplan en gemanipuleer het: stoot Ramaphosa voor sodat die ekonomie dalk weer ‘n bietjie sy kop kan lig, maar sorg dat die beleidsentrum in sy eie hande bly, sodat hy nog ‘n bietjie kan raap en kaap, en om die sosialistiese beleid steeds deur te voer.

Met dit alles gesê, wil dit dus nie lyk of daar op die korttermyn noemenswaardige veranderings gaan wees nie. Ramaphosa gaan nie genoeg ondersteuning hê om Zuma as president te herroep nie, soos wat Zuma wel met Mbeki gedoen het. Dit beteken dat Zuma waarskynlik redelik veilig is in sy presidentstoel tot in 2019, en kan hy as president dus steeds in sy kabinet aanstel wie hy wil. Hy kan selfs vir Ramaphosa nog afdank as adjunkpresident van die land, onder die voorwendsel dat Ramaphosa nou die ANC moet verenig en regkry vir die 2019 verkiesing.

Vir ons volk hoef ons ook nie op Ramaphosa staat te maak nie. Tydens die gesprek wat die Boere-Afrikanervolksraad met hom gehad het, was dit duidelik dat hy geen erg gehad het aan selfbeskikking vir die Afrikaner nie. Met iemand soos Ace Magashule nou in beheer van Luthulihuis, gaan dit dalk selfs minder wees as onder die reeds onsimpatieke Gwede Mantashe.

As ons ernstig is oor selfbeskikking met vryheid as eindpunt, sal ons self sterker moet optree, meer moet verenig en ‘n duidelike boodskap uitstuur, soos die Kataloniërs dit met hulle onafhanklikheidsreferendum gedoen het.  In die nuwe jaar is daar weer ‘n volksverkiesing aan die kom wat deur die VVK gefasiliteer gaan word. Die nuwe Volksraad sal met meer take beklee word as wat tot dusver die geval was. Dalk is dit die regte plek om te begin wys dat ons nie hierdie korrupte magsbestel meet wil hê nie.