Noord-Ierland hou premier May gevange

Die verwagtinge dat ’n deurbraak gemaak sou word in die onderhandelings tussen die Britse premier, Theresa May en die Europese Unie se voorsitter, Jean-Claude Juncker, het toe nie gerealiseer nie.

Die hoofrede hiervoor is die geskil tussen Noord-Ierland en Brittanje se Konserwatiewe Party wat in ’n koalisie vennootskap is, maar nou ’n ernstige meningsverskil het oor die gang van Brexit.

Die dispuut gaan oor die grens tussen die Republiek van Ierland en Noord-Ierland wat sodanig is dat Theresa May dit nie opgelos kry nie.

Politieke ontleders sê die onderhandelinge sou ’n welkome deurbraak gehad het as die Noord-Ierland se koalisievennote nie op die nippertjie ’n stok in die wiel gesteek het nie.

Met die verwikkeling blyk dit dat die Britse eerste minister na die pype moet dans van die klein vennoot van Noord-Ierland wat egter ten gunste van voortgesette lidmaatskap van die EU is, maar nou ’n geskil het oor die grens met die Republiek van Ierland.

Jean-Claude Juncker, voorsitter van die Europese Kommissie, sê in ’n verklaring aan joernaliste dat die terugslag nie ’n mislukking is nie, maar wel die begin van die volgende gesprek orde.

Die twee partye kon nie daarin slaag om ’n finale akkoord aan te gaan oor die Verenigde Koninkryk se uittrede uit die Europese Unie nie, en word grootliks toegeskryf aan die grensgeskil in Ierland, waarvan die grens tot hede byna onsigbaar was, maar met Brexit verander die situasie en moet ’n duidelike grens aangedui word.

Foto – Premier May en Jean-Claude Juncker