Nog ’n politieke krisis tref Merkel

Die premier van die Duitse deelstaat Bavaria, Horst Seehofer, het besluit om uit te tree as regeringshoof van die deelstaat, maar sal aanbly as hoof van die Christen Sosiale Unie.

Die onverwagse aankondiging is ’n verdere terugslag vir Bondskanselier Angela Merkel wat steeds sukkel om ’n koalisie ooreenkoms gesluit te kry.

Politieke ontleders sê Horst Seehofer se uittrede kon nie op ’n slegter tyd vir Merkel gekom het nie, en die verwagting is dat sy nog meer gaan sukkel om ’n regering saamgestel te kry met die afwesigheid van haar jarelange koalisievennoot in Bavaria.

Ingeligte bronne beweer dat die premier nie kans sien om saam met die linkse Sosialiste in dieselfde regering te dien nie, en het daarom besluit om plek te maak vir iemand anders.

Onbevestigde berigte lui dat die spanning tussen die twee koalisievennote, die Christen Demokrate Unie van Angela Merkel, en die Christen Sosiale Unie (CSU) van premier Horst Seehofer besig was om breekpunt te bereik.

Die CSU het reeds verlede jaar kapsie gemaak teen Merkel se oop deur benadering met die toelating van onwettige immigrante wat uiteindelik ook die rede is waarom sy swak gevaar het in die verkiesing van September toe sy nie ’n volstrekte meerderheid kon kry nie.

Foto – Horst Seehofer