Nasa begin nuwe ondersoek op Mars

Die Amerikaanse Ruimtevaart Agentskap Nasa het onthul dat ’n nuwe poging aangewend gaan word om te probeer vasstel of daar enige vorm van lewe op die planeet Mars is.

In 2020 wil Nasa ’n onbemande ruimtetuig na Mars stuur wat sal land en ’n intensiewe soektog begin om vas te stel of daar enige moontlikheid is van lewe op die planeet wat tot hede as onbewoonbaar beskou is

’n Nuwe verkenner, wat as opvolger gestuur word om die werk van Curiosity voort te sit wat in 2012 op die planeet gewerk het, maar geen lewe kon vind nie, sal met verbeterde toerusting sy taak moet uitvoer.

Die nuweling het sewe nuwe instrumente aan boord wat vervaardig is deur die spesialis ingenieurs van Jet Propulsion Laboratory om verskeie nuwe take te verrig.

Die verkenner is geprogrammeer om die uitgesoekte terrein op Mars te bestudeer en bodemondersoeke doen na moontlike tekens van lewe.

Alhoewel die nuwe verkenner se toerusting 89% is soos die van Curiosity, is daar nuwighede soos die vermoë om Röntgenstrale en ultraviolet laser te gebruik, wat besondere take moet verrig.

Nasa het reeds sewe ruimtetuie na Mars gestuur en die jongste sending sal glo aansienlik meer kan vasstel en na die aarde terugsein.