Liggies, geskenke en klappers

Terwyl verbruikers gebuk gaan onder moeilike ekonomiese toestande staan dit in skrille kontras met wat in winkels en winkelsentrums gebeur.

Blink liggies, Kersliedjies en “spesiale aanbiedings” lok duisende mense om aankope te doen met die oog op Kersfees.

Geskenke vir kinders wissel van rekenaartablette tot die normale “gemors” artikels uit Sjina wat een dag na Kersfees op die ashoop beland.  Drankaankope styg omdat Kersfees nie sonder alkohol gevier word nie.

Klappers word by die Sjinees en uitlander se winkel gekoop om kinders te vermaak met geraas terwyl die troeteldiere moet skuiling soek. Die kredietkaart moet betaal vir die aankope – Januarie sal ons probeer om te betaal.

Kersfees is lankal nie meer ‘n gesinsfees waar families bymekaar kom om die koms van Christus te herdenk nie, alhoewel kerke tradisioneel “vol” is op die besondere dag.

Ons volk se waardes het vervlak en pas aan by die wêreldse “krismis” belewenis van ooreet, oordrink, rumoer en uitspattigheid.

Mag ons dan nog vra waarom ons so gebuk gaan onder ‘n godlose bestel wat gekenmerk word deur moord, bedrog en korrupsie?  Is ons lewe tekenend van verloste sondaars?  Is ons anders?  Lewe ons anders as die ongelowiges?

Is dit wat die kruis vir my en u beteken?

Die vraag  kan en moet elkeen van ons, vir ons self antwoord en verantwoord.

Jakobus Kruger