Katalonië – simbool van vryheidstryd

Met ’n meerderheid van vyf setels in die regering van Katalonië, het die drie separatiste partye ’n onaanvegbare meerderheid in die parlement, en daarmee bevestig dat hulle steeds ten gunste van afskeiding is, ongeag wat Spanje se siening mag wees.

Spanje het die verkiesing afgedwing op die kiesers, en met ’n 83% stempersentasie het Katalonië bewys dat Spanje verkeerd oordeel, want die meerderheid is ten gunste van afskeiding.

Eerste minister Mariano Rajoy het al die moontlike opsies probeer om van die separatiste ontslae te raak, maar helaas sal hy moet erken dat die vryheidsdrang van die Kataloniërs nie onderskat kan word nie.

Met Carles Puigdemont wat sy party moes rig vanuit België as ’n leier in ballingskap, en een van sy sterk bondgenote in ’n Spaanse tronk, het die ondersteuners net meer doelgerig laat werk om die verkiesing vir hulle leiers te wen.

Die vermoede bestaan dat die separatiste weer hulle eie kabinet in ere sal wil herstel, en dit kan beteken dat ernstige onderhandelinge met Spanje afgedwing moet word.

Tot hede het Spanje geweier om dialoog te voer met die vorige regeringsleiers onder leiding van die streek se president, Carles Puigdemont.

Politieke ontleders sê die aangeleentheid het Spanje se onvermoë om demokraties op te tree, skerp omlyn, en daarmee die spanning met die oorwinnaars verhoog.

Puigdemont se party het 34 setels verower, wat dit die tweede grootste politieke party maak, en sy twee vennote het onderskeidelik 32 en 4 setels gewen wat hulle ’n totaal van 70 gee van die 135 in Katalonië.

Die pro-Spaanse party is die grootste en het 37 setels verower.

In ’n mediaverklaring het Carles Puigemont in Brussel gesê die “Katalaanse Republiek het die verkiesing gewen  teen die monargie wat Artikel 155 teen ons gebruik”.

Hy sê die Spaanse premier misbruik Artikel 155 van die grondwet om te verseker dat die wenners nie die Kataloniese Republiek kan regeer nie.

Waarnemers wys daarop dat Spanje die separatiste leiers verkwalik het omdat hulle geld vermors het op ’n referendum wat deur die kiesers gevra is, maar mors self ook geld deur nie die uitslag van die referendum te aanvaar nie, en hou toe ’n verkiesing wat weer eens deur die separatiste gewen word.

Foto – Carles Puigdemont