Hawai toets missiel waarskuwingstelsel

Uit vrees vir ’n moontlike ballistiese missielaanval uit Noord-Korea, het die verdedigingsmag van Hawai sy kernwapen aanval waarskuwingstelsel vir die eerste keer weer getoets sedert die Koue Oorlog.

Die optrede volg nadat Noord-Korea sy jongste toets uitgevoer het met die lanseer van ’n ballisties missiel wat klaarblyklik enige plek op aarde as teiken sal bereik.

Die waarskuwingsirenes het afgegaan en vir ’n volle minuut geloei waarna dit opgevolg is met ’n een minuut “waarsku sein”.

Die Hawaise Nood Bestuur Agentskap sê die toetse is suksesvol uitgevoer en het ook gedien as waarskuwing vir die inwoners om paraat te wees.

’n Woordvoerder het aan die media gesê dit is krities noodsaaklik dat die inwoners verstaan wat elke sein van die uitsending beteken en wat van hulle verwag word om hulleself te beveilig.

Deskundiges wys daarop dat ’n ballistiese missiel vanaf Noord-Korea binne 20 minute nadat dit afgevuur word, in Hawai kan aankom.

Die Amerikaanse verteenwoordiger in die Verenigde Nasies, Nikki Haley, het ’n oproep op alle lande gedoen om hulle verbintenisse met die kommunistiese Noord-Korea te verbreek in belang van wêreldvrede.