Cyril Zuma

Soos ons al vantevore gesê het, is daar geen wesenlike verskil tussen Jacob Zuma en sy opvolger in die ANC, Cyril Ramaphosa nie.

Met sy eerste toespraak as leier van die ANC, het Ramaphosa dieselfde beleidstandpunte ingeneem as wat Zuma gehad het en wat Nkosazana Dlamini-Zuma laat hoor het.

As gekyk word na die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC wat ook nou aangewys is, is Dlamini-Zuma ook daar, terwyl daar talle prominente lede van die SA Kommuniste Party (SAKP) ook is.

Al sou Ramaphosa dus wou, het hy nie veel beweegruimte nie. Ons twyfel egter of hy werklik wil, want hy is hart en siel die ANC en ondersteun hulle beleid, beginnende met die Freedom Charter.

Trouens, hy het as die ANC se hoofonderhandelaar die land uit FW de Klerk se hande gekry, sonder dat die destydse NP van De Klerk ook maar een sinvolle kompromie kon afdwing. Die ANC het onder Ramaphosa alles gekry wat hy wou gehad het. Waarom sal hy dit nou vrywillig teruggee?

Die enigste verskil wat daar tussen Ramaphosa en Zuma is, is dat Ramaphosa waarskynlik meer en bester bestuurservaring het, wat hy opgedoen het in die privaatsektor. Zuma het geen bestuurservaring gehad nie, hoogstens oorlewingsvaardighede. Daarby moes Zuma heeltyd sy persoonlike vure doodslaan, wat hom (gelukkig) weggehou het van dit wat hy wou doen, of wat hy in terme van die ANC se beleid, moes doen. Ramaphosa hoef nie persoonlike vure dood te slaan nie, behalwe dalk nog ‘n bietjie smeulende as van die Marikana-slagting. Hy kan dus sy aandag aan dit gee wat hy in sy toespraak beloof het.

Dit maak Ramaphosa dus in wese vir ons volk ‘n veel gevaarliker teenstander as Jacob Zuma. ‘n Onbekwame president onder wie se hand niks gebeur nie, is dalk meer wenslik as ‘n bekwamer persoon wat die vermoë het om sy vyandelikhede teen ons uit te voer.

Al die jubelendes wat gejuig het oor Ramaphosa se verkiesing, moet nou reeds erg ontnugter wees dat die ANC, onder Ramaphosa se leierskap, reeds besluit het om radikale ekonomiese transformasie in snelrat te plaas; wat grondonteiening op plase en in stede wil verhaas – alles natuurlik sonder vergoeding; wat meer beheer oor die media wil hê sodat vryheid van spraak en die vermoë tot verset vernietig kan word.

Dit is hierdie onplesierige prentjie onder Cyril Zuma wat ons die jaar 2018 in neem, op pad na die bestel se verkiesing van 2019.

Gelukkig kry Afrikaners die geleentheid om hulle sê te sê in die VVK se verkiesing wat in 2018 gaan plaasvind. Dit is ‘n geleentheid wat nie verpas mag word nie.