9 Desember 2017

Wat maak die datum anders as die ander dae in Desember maand?  Op 9 Desember 1838 het die Voortrekkers die eerste keer die Gelofte afgelê wat later sou bekend staan as die Bloedrivier Gelofte.

Daarna is die Gelofte elke aand tot en met 15 Desember herhaal.  In die geskiedenis van die Boere Afrikaners sou  16 Desember 1838 ‘n nuwe dimensie aanneem met die besef dat God Drie-Enig daardie dag ingegryp het in die volk se voortbestaan.

Nou,  bykans 180 jaar later, kom die vraag op:

Quo Vadis Afrikaner?

Ons situasie vandag verskil slegs in die intensiteit van moord en aanvalle op ons mense.  Ons staan by ‘n kruispad soos die Trekkers aan die Oos-Kaap gestaan het, ons mense oorweeg om te trek, hierdie keer uit die land uit.

Ons is bykans ‘n volk in verstrooiing as daar gekyk word na die aantal Afrikaners wat geëmigreer het na oorsese lande.

So ‘n klompie maande gelede het bykans 700 000 mense by Bloemfontein bymekaar gekom en is daar daardie dag gebid en gevra dat die situasie in die land moet verander.  Op ‘n Swart Vrydag het duisende mense, in swart geklee, hul misnoeë te kenne gegee met die toestande in die land en veral die groot getal plaasmoorde wat plaasvind.

Wat staan ons nou te doen?  Is ons klaar met protesteer?  Berus ons maar met die voortslepende geweld en moord op ons mense?

Gaan ons soos die trekkers van ouds onsself verootmoedig en vanaf 9 Desember 2017 tot en met 16 Desember 2017 ons rig tot die Verlosser van volke en nasies of gaan ons die Desember vakansie binne met die gedagte dat ons gaan rus van ‘n jaar se werk?

Hoeveel van die 700 000 mense wat in Bloemfontein was gaan op 16 Desember 2017 êrens ‘n Geloftefees bywoon?  Hoeveel mense wat bereid was om swart klere aan te trek en ‘n optog te hou, gaan op 16 Desember 2017 hul gelofte  as nasate van die Voortrekkers nakom?

Andries Lategan