Wees versigtig op Swart Vrydag

Handelaars in die VSA het “Black Friday” begin toe hulle hul sakeondernemings se oortrokke bankrekening se rooi syfers wou vervang met swart syfers wat ’n voordelige saldo aantoon.

Om dit te kon doen, is die gedagte gevestig om “onverkoopbare voorraad” se pryse afwaarts aan te pas om uiteindelik die bankstaat na swart syfers om te sit en daarmee sommer ontslae kon raak van voorraad wat hulle nie verkoop kon kry nie.

Swart Vrydag het ook oorgewaai na Suid-Afrika, maar kenners waarsku dat dit nie altyd voordelig is om op die besondere dag te gaan soek vir ’n winskopie nie.

Statistieke toon dat handelaars die grootste deel van die onverkoopbare voorraad se pryse tot kosprys verlaag in die hoop om hulle geld terug te kry wat daarvoor betaal is.

Die interessante is egter dat handelaars ’n dag of twee na Swart Vrydag, die ou voorraad wat nie verkoop het nie, nog verder afmerk.

Dit is dus voordelig om na Swart Vrydag weer die winkels te besoek – dalk is jy gelukkig genoeg om werklik ’n winskopie te bekom.

Maar wees versigtig. Nie alle voorraad word afgemerk nie – dit is slegs die onverkoopbare goedere se pryse wat afgemerk word.

Daar is handelaars wat van die geleentheid gebruik maak om die voorraad wat daagliks goed in aanvraag is regdeur die jaar, se pryse opwaarts aan te pas om ’n deel van die wins wat verloor word op ou voorraad, te herwin.

Die spaarsamige verbruiker koop egter anders – hulle koop nie wat hulle nodig het nie, hulle koop dit waarsonder hulle nie kan klaarkom nie.