VSA en Sjina kan saamwerk

Die Verenigde State van Amerika en Sjina kan saamwerk om die “groot gevaar” van bedreigings in die wêreld te bestry.

Dit is die Amerikaanse president, Donald Trump, se siening na ’n twee dae lange besoek aan Sjina.

President Trump is deur sy Sjinese ampsgenoot, Xi Jinping, in Peking ontvang en op koninklike wyse onthaal waartydens die wêreld se probleme bespreek is.

“Ons beskik oor die gesamentlike kragte om die probleme op te los wat vir ’n hele aantal jare kan geld, en my gevoel is dat daar ’n eensgesindheid bestaan om groot dinge te vermag”, het Trump gesê.

Die twee leiers het klaarblyklik dieselfde siening geopenbaar oor wat gedoen moet word om Noord-Korea se kernprogram gestop te kry.

“Ons moet vinnig optree, en ek roep Sjina op om werklik hard te werk en handel met Noord-Korea te beëindig om sodoende die druk te verhoog”.

Trump het ook die Amerikaanse handelstekort met Sjina geopper en dit voor die deur van die Barack Obama regering gelê, en bygevoeg dat die VSA se beleid in hierdie verband aangepas moet word.

Waarnemers meen dit hou die moontlikheid in dat minder aankope uit Sjina gedoen moet word, ten bate van ander lande in die wêreld.