Siriese weermag verjaag IS terroriste

Die Siriese leërmag het hul oorwinning uitgeroep nadat die Islamitiese Staat (IS) terroriste uit hulle laaste basis in Albu Kamal verdryf is.

Dit is die terroriste se laaste stedelike basis wat in Sirië bestaan, en is geleë by die Siriese grens met Irak.

’n Weermag woordvoerder het gesê die oorwinning het die terroriste se bestaan in Sirië finaal beëindig, wat ook beteken dat die oorlog teen terrorisme feitlik verby is na drie jaar van bloedige gevegte wat aanvanklik met sukses bekroon is toe die Russe met vernietigende lugaanvalle begin het.

Volgens die VSA was daar sowat 3 000 terroriste in die stad Albu Kamal, en dit het swaar gevegte gekos om hulle te verdryf.

Honderde terroriste is deur lugaanvalle in Sirië gedood, maar dit het ook tot gevolg gehad dat stedelike burgerlikes omgekom het.

Militêre ontleders is dit eens dat alhoewel die terroriste verdryf is uit hulle laaste groot basis, is dit nog lank nie die einde van hul bedrywighede nie en kan motorbom aanvalle te eniger tyd in enige deel van die wêreld verwag word.

Dit is bekend dat honderde vegters teruggekeer het na Europa, waarvandaan hulle aanvalle op onskuldige burgerlikes sal uitvoer.