Ramaphosa beloof ook miljoen poste

Aspirant-president Cyril Ramaphosa klink al hoe meer soos Jacob Zuma en politieke ontleders wys daarop dat daar min verskil gaan wees in beleid onder Ramaphosa as onder die Zuma-bewind.

Ramaphosa het tydens ‘n lesing in Soweto gesê dat hy glo dat die land volgende jaar ‘n groeikoers van tussen drie en vyf persent kan hê en dat dit werk vir ‘n miljoen mense kan skep.

Zuma het ook al by herhaling beloof dat ‘n miljoen werksgeleenthede geskep gaan word, maar daar het sover dadels van gekom, Inteendeel, werkloosheid neem steeds toe, wat toegeskryf word aan onvriendelike arbeidswetgewing en voorgeskrewe lone. Volgende jaar se inwerkingstelling van ‘n nasionale minimumloon gaan die werkloosheid eerder verhoog as verminder.

Intussen waarsku ekonome dat die land ‘n verdere krediet afgradering in die gesig staar, wat die rand se waarde nog verder gaan verlaag en werkloosheid nog groter gaan maak. Daarom beskou hulle Ramaphosa se uitspraak as tipiese verkiesingspraatjies, waarvan niks sal kan kom nie.