Plaasterroriste slaan weer toe

In ‘n gruwelike geval van plaasterrorisme in Lichtenburg is die 73-jarige mev. Elizabeth Kotze helder oordag met ‘n mes doodgesteek en haar liggaam vermink. Sy is verskeie kere gesteek en haar gesig is geskend deurdat ‘n groot kruis daarop gesny is.

Dit was weer eens boere en nie polisie nie, wat twee plaasterroriste in Ficksburg gevang het nadat hulle die 26-jarige Arend Corbett in die kop geskiet het. Dit was die tweede aanval in Ficksburg die afgelope week.

By Dundee is die 84-jarige mnr. Waffie Potgieter ongedeerd nadat terroriste mis geskiet het tydens ‘n aanval op sy plaas.

Intussen het VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, daarop gewys dat die staatshoof hom omring met lyfwagte en is daarom nie bewus van die ware omvang van misdaad in Suid-Afrika nie.

Dr. Groenewald het gister met vraetyd ook aan die president gevra of hy ʼn ervare en kundige persoon as nasionale polisiekommissaris sal aanstel wat uit die geledere van die polisie kom, en of dit ʼn aanstelling op meriete sal wees of weer ʼn politieke aanstelling soos die geval was sedert 1999.

Hy het ook gevra of die president bewus is van die “ongemaklike waarheid” rondom die wreedheid wat met plaasaanvalle en -moorde gepaard gaan.

“Is die president bewus daarvan dat misdadigers elektriese bore gebruik om gate in hul slagoffers se voete en bene te boor? Is hy bewus daarvan dat slagoffers met warmgemaakte ysters gebrand word?

“Is hy bewus daarvan dat misdadigers kokende water oor hul slagoffers gooi en in hul kele afgooi? Dat hulle selfs slagoffers se geslagsorgane afsny, dit kook en eet?

“Hierdie ongemaklike waarheid is die realiteit rondom plaasmoorde. Misdaad is besig om buite beheer te raak en daarom moet die regte kommissaris nou aangestel word,” het dr. Groenewald gesê.