Op die volksakker – Partypolitieke opportunisme

Debat bied geen oplossing nie.

Die “skielike” gewaarwording van staatskaping en die omvang daarvan in 2017 is bloot ʼn rookskerm, en is bloot die resultaat van openbare druk nadat die kan wurms oopgebars het.

Die tekens van staatskaping was reeds in die skandale van die Mandela-era sigbaar – maar ter wille van politieke gedienstigheid en opportunisme het opposisie partye geswyg.

Terugskouend kan ons duidelik sien, uit die verkiesingsretoriek onderliggend aan hul debat, dat die sogenaamde opposisiepartye (heel waarskynlik) doelbewus gewag het dat die omvang van staatskaping groei tot vlakke dat hul ‘n verkiesingsvoordeel daaruit kan trek.

Intussen is dit insiggewend dat elke (sogenaamde) opposisielid (op alle regeringsvlakke) steeds maand na maand in gerief en luuksheid leef. Dit terwyl werkloosheid en armoede toeneem weens die miljarde en miljarde wat gesteel was oor die afgelope twee dekades!

Daarom moet verder raakgesien word dat die huidige kaping van die staat is bloot kaping deur invloedryke buitestanders – of meer presies, ANC ringkoppe verkwansel bloot wat hulle sedert 1994 sistematies ingepalm het.  Die regering van SA is reeds in 1989 gekaap en in enkele jare oorgegee in die hande van ʼn kommunistiese diktatuur.

Daardie oorgawe was inderdaad onregmatig, maar was nogtans ondersteun deur ʼn meerderheid van dieselfde verloopte liberale “verligtes” wat vandag die kern van sogenaamde opposisie politiek vorm.

Die misleiding in die 1992-Referendum was ooglopend vir enige denkende persoon.

Daar was wel ʼn kort 5-jaar venster om die Vryheidsfront se 1993-Akkoord af te dwing ten behoewe van ons volksvryheid en volksbehoud (menslik gesproke). Dáárdie geleentheid is egter óók gekaap deur opportunistiese politici, wat sedertdien bloot hul eie geldsakke en pensioene aangevul het.

Geen regeringsverandering gaan sake verbeter nie: in DA-beheerde metrorade word (grootliks) swart wanbetaling steeds oor die hoof gesien, word (grootliks) blanke belastingbetalers swaarder en swaarder belas en aan kredietbeheer onderwerp.

In DA-beheerde metrorade is geen beloftes van herwinning van verkwiste geld of vervolging gestand gedoen nie.  Dit is nie polities gerieflik nie…

Ons sien dieselfde tendens wêreldwyd – kiesers ervaar toenemend dat politici bloot die feodale onderdrukking van weleer terugbring.

Nogtans is die mees tragiese hiervan dat kiesers nie hierdie grondoorsaak raaksien nie… of wil erken dat hulle dit insien nie, natuurlik solank as wat daar geld te make is.

Nóg eens staan ons mense voor ʼn keuse: demonstratiewe optogte gaan niks verander aan ons omstandighede nie. Prakties gaan ons mense, soos in 1834, die waarheid vierkant in die oë moet kyk, hul geloofshuis vir eens en altyd in orde bring en hulleself daadwerklik verbind tot volksvryheid.

Dit gaan volkseie ondernemings, volkseie indiensneming, opoffering vir volkseie onderrig verg.

Is dit ons mense se erns?