Op die volksakker – Is dit ons erns?

Die vraag is kort, kragtig en sny tot in die wese van SA, en baie spesifiek ons volk, se huidige krisis-bestaan.

Ek vermy doelbewus ʼn nader beskrywing van “krisis”, aangesien geen lewensterrein nié in krisis verkeer nie.

Leë kerke en besige winkelsentrums op Sondae spreek vanself – en dit is hartseer om te erken, amper die minste van ons mense se geloofskrisis!

Dag na dag word ons identiteitskrisis erger: aangeblaas deur ʼn sogenaamde raamwerk van burgerlike samewerking en hul verlooptheid met humanisties-rewolusionêre (wan)waardes.

Die waarheid is: niemand kan ʼn volk sy identiteit ontneem, tensy daardie volk in sy lede en voorbokke nie daardie identiteit vrywillig laat vaar of saamwerk in die proses van aftakeling nie!

Die bestaanskrisis, ekonomiese agteruitgang en verarming, vervlakking van ons kinders se opvoeding – noem maar op – is alles bloot simptomaties.

Lees ons die sosiale media, merk ons 1994/2017 déjà vu – die afgode welvaart en sport oorheers steeds die volksdenke!

Terwyl mense toenemend “begin raaksien” dat die leë beloftes van 1989-94 inderdaad nie net leeg nie, maar doelbewuste leuens was, sien ons ʼn herhaling van ruggraatlose apatie in 2017.

Met die nuus van die 2023 rugby wêreldbeker staan vele “trots” op vir die slagoffers van ons volk – “moet nie groen dra nie”, maar kom ons steun nogtans die jingo-sport wat ons ons land en bestaansreg gekos het!

Op dieselfde wyse het mense skynheilig-simbolies “die rug gedraai” toe SARU ʼn minuut stilte vir volksmoord weier – maar hulle steun nogtans die sport!?

Die gejaag na materiële gewin bly ʼn grondliggende bestaansmotief in ons breë volkshuis.

Nieteenstaande oorweldigende bewys dat volksvreemde arbeid die aanleidende oorsaak vir sosiale verval (luiheid, wat lei tot meerderwaardigheid, wat lei tot gemaksug en uiteindelik tot verval) was, gaan dit voort! (Die bewese verband tussen volksvreemde arbeid en volksmoord word bloot nie gemeld in die hoofstroom nie.)

Vele gesinne se kinders word uitgelewer aan ʼn anti-Christelike onderwysstelsel, terwyl ouers (veral moeders) jaag na geld en status – so anders as die volksmoeders van weleer wat werklik van hul huise ʼn veilige hawe vir hul gesinne gemaak het.

En terwyl honderde duisende volksgenote vergaan in plakkerskampe, sal ons “volkseie” sakemanne weinig doen om weg te beweeg van volksvreemde arbeid en daardie gesogte “BBBEE” wat nogmaals ter wille van geld gesoek word.

Ongelukkig is die teendeel óók dat weens werks-hoogmoed, talle in armoede sal bly, eerder as om as arbeider in ander se diens te tree!

Tog so tragies: die Engelsman wie ons sedert ongeveer 1800 probeer vernietig se hoogmoed het sterk posgevat in ons eie volksdenke!

Ons moet ons ook losmaak van die partypolitieke bedeling van die Engelsman; weg van ʼn stelsel waar debat en bedrywig wees voorgehou word vir “resultate”, na ons volkswortels en arbeid adel.

Daarom kan ons inderdaad vra “Is dit ons erns”:

Is dit ons erns om onsself te verootmoedig?

Is ware volksvryheid werklik ons erns?

Te oordeel aan Christelik-volkseie organisasies se steun, blyk die antwoord na dekades van plundering, roof en geweld steeds “NEE” te wees.

In stede van ondersoek na grondoorsake, word polities-korrekte “oplossings” gesoek. Met skynheilige oproepe tot “eenheid” word elke effektiewe volkseie aksie gekaap of geteiken vir verguising – uit breë volksgeledere.

Tot ons mense erns maak met langtermyn volhoubare vryheid, op élke lewensterrein, binne ʼn samelewing waar élkeen ʼn produktiewe bydrae móét maak, sal elke sogenaamde “oplossing” net verdere mislukking inhou.

Daarom word elke opreg volksliewende Boere-Afrikaner opgeroep om eersdaags in alle erns Geloftedag te herdenk; om werklik as gesin Christus-fees te vier, en mag ons ons eerlik verbind tot die voorneme om hart en siel te werk vir volksvryheid, geanker in die suiwer Woord en wandel.