Neem ingeligte besluit by tussenverkiesing

Soos baie alreeds weet vind die munisipale herverkiesing in Metsimaholo op 29 November plaas.

Metsimaholo is ‘n munisipale gebied in die Vrystaat wat dorpe insluit soos Sasolburg, Deneysville en Oranjeville.

Die vraag is natuurlik vir wie moet daar gestem word?

‘n Baie eenvoudige antwoord sal wees om te kyk watter party se waardes die naaste aan jou eie waardes is om dan vir daardie party te stem. As jy regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming ondersteun, dan sal jy heelwaarskynlik vir die DA of ANC stem.

Is jy egter gekant teen bogenoemde en wil jy hê daar moet gelyke geleenthede vir almal wees? Is jy moeg vir swak dienslewering, korrupsie en vermorsing van die belastingbetaler se geld? Is jy trots op jou taal en kultuur en trots op wie en wat jy is?

Wel, dan sal die logiese keuse wees om vir die VF Plus te stem en op hul te vertrou om vir jou belange en regte te veg.

Dis egter belangrik om ‘n ingeligte besluit te maak, want die hand wat die kruisie maak, is die hand wat die toekoms skryf en die inwoners van Metsimaholo verdien ‘n beter toekoms.

Gaan stem dus op stemdag en dra so by om Metsimaholo vooruitstrewend te maak waarop elke inwoner trots kan wees. Staan dus op, wees trots en gaan stem met trots op 29 November in hierdie uiters belangrike herverkiesing in Metsimaholo.

Frik Lotz