Motorrubriek – Lexus LC500

 

Waar die Lexus LC500 beweeg, trek dit aandag. Die hoofligte wat deel uitmaak van die voorste stamper en die agterligte wat se lyne bykans ooreenstem met die van die hoofligte, laat letterlik en figuurlik die koppe draai.

Hier het die Japannese ‘n wenner beet. Die boukwaliteit is van hoogstaande gehalte en die 21 duim gechroomde wielnawe met die luginlate voor die agterwiele, rond die buite prentjie netjies af. Die motor hurk naby aan die padoppervlakte en dit skep die indruk dat dit gebou is vir spoed.

Die binne-afwerking trek dadelik die aandag wanneer die deure oopgemaak word. Netjiese stikwerk rond die rante van die sitplekke, die middel konsole en die instrument paneel af. Die verskillende komponente pas netjies in hulle onderskeie plekke in en die beheer lepels agter die stuurwiel wat van magnesium allooi vervaardig is, kan maklik gebruik word vir die verskillende funksies.

Gedeeltes van die binne-afwerking is gedoen met donker rooshout en die leerbekleedsel van die sitplekke verstewig die gevoel van duursaamheid. Die 13 luidsprekerstelsel radio voorsien suiwer klanke en wanneer ‘n mens op die lang pad is, voel dit amper of jy in jou sitkamer op die rusbank sit. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en ‘n gemaklike sitposisie kan ingeneem word.

Aan die linkerkant van die driespeek stuurwiel is die drukknop skakelaar wat die 4969 kub. sentimeter, V8 kragbron in werking stel en die klank wat voortgebring word is aangenaam op die oor. Die krag is 351 kW teen 7100 o.p.m. en die wringkrag is 540 Nm teen 4800 o.p.m. Enjin vibrasie word tot die minimum beperk deur die balanseer gewig wat op die krukas gemonteer is. In die uitlaatstelsel is daar kleppe geïnstalleer wat, afhangende van die snelheid oop en toemaak, om die V8 klank op sy beste deur te gee.

Die 10 spoed outomatiese ratkas skakel seepglad oor en dit is bykans onmoontlik om die oorskakeling waar te neem. Wanneer die lepels egter gebruik word om die rat oorskakeling te doen, voel ‘n mens hoe kragtig die motor is, want dan kom dit eintlik tot sy reg. Maar wanneer die ratoorskakeling outomaties gedoen word neem die versnelling van 0 tot 100 km/u 5,28 sekondes en die maksimum snelheid is, volgens toetse uitgevoer, 270 km/u. Brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 11,6 l/100 km.

Alhoewel  baie lae profiel bande gebruik word, is padgeraas tot die minimum beperk en is dit nouliks hoorbaar binne in die voertuig aangesien die isolasie van hoogstaande kwaliteit is. Op reis in bergwêreld op ‘n kronkelende pad, is die Lexus eintlik in sy element en kom die elektries ondersteunde stuurstelsel eintlik tot sy reg. Die krag kan aangewend word soos nodig en die motor klou letterlik met min moeite, aan die pad oppervlakte. Wat die rit nog verder verbeter is die feit dat die agterwiele ook deel uitmaak van die stuur aksie met die gevolg dat die motor gemaklik om draaie beweeg.

Hierdie is ‘n motor vir die fynproewer en kan tot sy reg kom wanneer dit op ‘n snelweg gebruik word. Teen 120 km/u is die enjin toere 1600 o.p.m.