Macron vra kalmte van Saoedi

Die Franse president, Emmanuel Macron, het ’n ongeskeduleerde reis onderneem om ’n dringende oproep te doen tot kalmte nadat die eerste minister van Libanon onverwags bedank het.

Die krisis in Libanon en in Jemen, is besig om kookpunt te bereik nadat Saoedi-Arabië, die Emirate en Koeweit hulle burgers versoek het om so spoedig moontlik die gebied van Libanon te verlaat.

Dit is president Macron se eerste besoek aan die Midde-Ooste en het met prins Mohammed van Saoedi-Arabië ernstige besprekings gevoer en gevra vir kalmte nadat die Libanese premier, Saad Hariri, se skokbedanking bekend geword het.

Macron het die krisis in Libanon as ’n uiters sensitiewe aangeleentheid bestempel en gevra dat Saoedi-Arabië met kalmte sal optree.

Die Libanese eerste minister het aan die media gesê hy vrees vir sy lewe en het Iran se greep op sy land daarvoor blameer.

Die Franse president het bevestig dat hy kennis geneem het van die onwrikbare houding van Saoedi teenoor Iran, en wil namens Frankryk ’n rol vervul om die vrede te bewaar tussen die verskillende lande in die Midde-Ooste.

Die spanning het ontstaan toe Iran ’n missielaanval uitgevoer het op Riyadh, wat daartoe gelei het dat Iran as die sondebok bestempel is in die spanning wat daarna gevolg het.

Aan die een kant staan die Saoedi-blok en daarteenoor is die Iran-blok wat ook  Libanon insluit, maar wat nie allerweë aanvaar word nie aangesien Libanon die gevoel het dat Iran ’n greep het op hulle land.

Kenners wys daarop dat konflik in die Midde-Ooste ’n uiters gevaarlike situasie kan skep wat uiteindelik kan lei tot ’n wêreldoorlog.

Foto – President Macron en prins Mohammed