Lesse uit Zimbabwe

Die gebeure in Zimbabwe, waar daar in wese ‘n “sagte” staatsgreep was om die mag van die diktator, Robert Mugabe, te vervang met ‘n nuwe diktator, kom op ‘n uiters geleë tyd vir die Suid-Afrikaanse staatshoof, Jacob Zuma.

Zuma is voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), en in daardie opsig het hy nou skielik vir homself ‘n rol bespreek in die drama wat in Zimbabwe ontvou. Zuma belê nou SAOG vergaderings, stuur ministers herwaarts en derwaarts, en hy probeer in die proses die rol van ‘n staatsman speel.

Dit gee hom ‘n uitstekende geleentheid om die aandag van sy eie binnelandse probleme af te lei. Weg is alle lastige staatskaping verslae. Nou word alle nuutgeskrewe boeke met verdoemende getuienis teen Zuma en sy bende op die agtergrond geskuif, want Zimbabwe oorheers die nuus. Zuma speel staatsman en kry die SAOG in Angola byeen om die krisis in Zimbabwe te bespreek. On willekeurig dien die vraag hom op: en as die situasie nou bespreek is, wat dan? Die SAOG is net so ‘n hond sonder tande as die VN. Baie verklarings kan gemaak word en standpunte ingeneem word, maar daarby bly dit.

Natuurlik is dit interessant om die verwikkelinge in Zimbabwe te volg, maar uiteindelik bly dit ‘n interne aangeleentheid. Zimbabwe moet sy eie sake uitspook -iets wat hulle ook verkieslik self wil doen, as gekyk word na die naweek se optogte waar Zuma selfs op plakkate geadviseer is om hom met sy eie vroue besig te hou en die Zimbabwiërs te los om hulle eie dinge te doen.

Dat die staatsgreep egter nie die einde van Zimbabwe se probleme gaan wees nie, is feitlik ‘n uitgemaakte saak. Mugabe se waarskynlike opvolger, die adjunkpresident van hy onlangs afgedank het, is self geen engeltjie nie, en het heelwat bloed aan sy hande. As een van Mugabe se mees lojale ondersteuners het hy ywerig meegedoen aan die fisiese uitwissing van opposisielede. Die gevaar wat Zimbabwe in die gesig staar is dat hulle ‘n siniele 93-jarige diktator gaan verruil vir ‘n jonger en dalk yweriger weergawe daarvan. Maar ook dit is hulle keuse. Elke land verdien die leiers wat hy kies.

Die Zimbabwe gebeure het egter wel sekere lesse.

Die een is dat lojaliteit uiteindelik net so ver gaan as wat dit voordeel kan inhou. Mugabe het altyd staatgemaak op die lojaliteit van sy weermag. Daardie lojaliteit het op ‘n stadium verander, en dieselfde weermag het hom aan die kant geskuif, weliswaar betreklik elegant en sonder om hom summier tereg te stel, soos dikwels in ander Afrika staatsgrepe gebeur.

Die tweede les is dat geen bestel onaantasbaar is en vir ewig hou nie. Aanvanklik was die verwagting dat Mugabe sou regeer tot hy sy kop neerlê. Dit het uiteindelik anders verloop. Ook Mugabe se bewind het ten einde gekom nadat mense wat hom eens in die strate toegejuig het, nou omgedraai het en sy kop eis. Dieselfde het in Berlyn gebeur met die muur tussen die ooste en weste. Toe die burgery begin om die muur af te breek, kon selfs die Oos-Duitse polisie dit nie meer keer nie. Dieselfde het gebeur met die magtige en feitlik onaantasbare Sowjet-ryk, wat onaantasbaar gelyk het, en net so skielik verdwyn het.

Al die gebeure dui daarop dat niks onomkeerbaar is nie. Zuma sal dit ook moet besef. Hy het reeds agtergekom dat daar in die ANC al sterk teenkanting teen hom is. Selfs die SA Kommuniste Party en die vakbondfederasie Cosatu het hom al die rug toegekeer. Groot groepe in die burgery het hom die rug toegekeer. Nietemin klou hy net so aan die mag soos Mugabe steeds verbete doen, maar die skrif is in beide gevalle teen die muur.

Vir die Boere- of Afrikanervolk is daaruit ook ‘n les te leer, en dit is ook dat niks onomkeerbaar en permanent hopeloos is nie. Uit enige situasie kan nuwe geleenthede ontstaan. Dit vereis egter dat die volk meer eensgesind sal moet optree en ‘n oorhoofse volkstrategie, in plaas van ‘n organisasiestrategie, moet volg met die oog op die toekoms en die vestiging van Afrikaner selfbeskikking.

Helaas blyk die organisatoriese verdeeldheid nog sterk in die pad daarvoor te staan. Nadat die burgery spontaan in opstand gekom het teen die plaasmoorde en derduisende mense landwyd spontaan en ongeorganiseerd deelgeneem het aan die Swart Maandag protes, is daar nou nog proteste op dieselfde tema, so al of organisasies ‘n punt wil bewys van “alles wat julle doen, kan ons beter doen”.  Daardie mentaliteit gaan ons nie ver bring nie, en gee ons vyande selfs ekstra suurstof, want dit maak die verdeel-en-heeers-benadering aan hulle kant soveel makliker.