Kataloniërs eis vrylating van leiers

Duisende inwoners van Katalonië, in die noorde van Spanje, het die afgelope naweek in ’n protes optog die strate van Barcelona beset om te eis dat hulle leiers wat steeds in aanhouding is, vrygelaat moet word.

Die afgesette president, Carles Puigdemont, wat steeds in België is, het die optrede van separatiste geloof en gesê tot hede het hulle hulself nie skuldig gemaak aan gewelddadige optrede soos die Spaanse polisie nie.

Die duisende ondersteuners vir die onafhanklikheid van Katalonië, het met die opvolg protesaksie getoon dat hulle ernstig is met die verkryging van onafhanklikheid en die vrylating van hulle leiers.

Hulle maak ook beswaar teen die borgtog van €150 000 wat die parlement se speaker, Carme Forcadell, opgelê is terwyl ministers €25 000 aan borgtog moes betaal.

Duisende plakkate met “Ons eis vrylating van politieke gevangenes” is regdeur die hoofstraat van Barcelona vertoon.

’n Woordvoerder het gesê die mense van Katalonië sal aanhou betoog en eise stel tot die Spaanse regering die streek se onafhanklikheid erken het en vervolging van sy leiers gestaak het.