Kataloniërs begin burgerlike ongehoorsaamheid

Kort nadat die Spaanse Grondwethof beslis het dat die Kataloniese parlement se referendum oor onafhanklikheid ’n onwettige handeling is, het inwoners van die streek met massa optrede begin om hulle ontevredenheid te toon.

Die inwoners het begin om treine- en busverkeer te blokkeer met die hoop dat dit sal bydra tot groter begrip vir hulle vryheidstrewe.

Honderde mense het op treinspore gaan lê om te verhinder dat volgepakte treine met werkers daarin kon vertrek.

Intussen het Carles Puigdemont, die afgesette president van die streek, gesê die optrede van Spanje om toe te slaan en beheer oor te neem in Katalonië, niks anders is as ’n staatsgreep nie.

Duisende separatisties het op spoorwegstasies saamgedrom en daarmee verhinder dat treinreisigers toegang kon kry tot die treine.

Die burgerlike ongehoorsaamheid wat onder die vaandel van ’n staking plaasgevind het, het by tientalle stasies tot algehele chaos gelei, en het sleutelpunte se bedrywe tot stilstand gekom.

Premier Mariano Rajoy het later gesê hy hoop dat die komende verkiesing weer kalmte en rustigheid in Katalonië sal bring, maar politieke ontleders is nie daarvan oortuig dat dit wel die geval sal wees nie.

Politieke waarnemers sê die moontlikheid bestaan dat die separatiste weer die verkiesing wat op 21 Desember gehou word in die streek, kan wen, wat die posisie vir die Spaanse regering van Premier Rajoy onhoudbaar gaan maak.