Iran die skuldige aanvaller op Saoedi?

Die wrywing tussen lande in die Midde-Ooste is besig om ’n ernstige gevaar vir wêreldvrede te word, en die konflik tussen Saoedi-Arabië en Iran laat Westerse lande toetree om die vrede te bewaar.

’n Senior generaal in die Amerikaanse weermag meen Iran het ’n rol vervul in die lansering van ’n missiel wat op Saoedi-Arabië gemik was.

Alhoewel die missiel blykbaar deur die Houthi rebelle in Jemen afgevuur is, glo die generaal dat Iran wel daarby betrokke was.

Die voorval het die spanning so verhoog tussen Iran en Saoedi-Arabië dat dit enige oomblik kan losbars in ’n geweldige oorlog, maar wat dan kan uitbrei wanneer ander lande hulle bystand wil verleen.

Kenners wys daarop dat dit die moontlikheid van ’n Derde Wêreldoorlog inhou, wat wêreldleiers soos president Macron van Frankryk genoop het om ’n blitsbesoek aan Saoedi-Arabië te bring met die doel om kalmte in die streek te vestig.

Die vermoede bestaan dat Iran hulp verleen het aan die rebellemagte in Jemen vir die ontwikkeling van ’n ballistiese missiel wat gelanseer is om Saoedi-Arabië te tref wat sterk gekant is teen die Houthi rebelle in Jemen.

“Wat duidelik waargeneem kon word uit die resultate van die ballisties missiel is dat daar merktekens van Iran se afkoms is op die missiele”, het generaal Jeffrey L. Harrigian van die Verenigde State se Lugmag Kommandement aan verslaggewers gesê.