Goud bedreig dollar

Dit is al vir geruime tyd bekend dat goud in aanvraag is by Indië, Rusland en Sjina. By Indië is dit veral gewild as versiering by juweliersware, by Rusland gaan dit om ekonomies-strategiese beskerming en so ook by Sjina.

Die afgelope tyd het Sjina, as die tweede grootste wêreldekonomie, sy ekonomiese ondergeskikte rol begin afskud as afhanklike van die VSA dollar vir internasionale betalings. Sjina is besig om sy yuan na vore te stoot om die dollar as internasionale geldeenheid te onttroon.

Die dollar word sterk onderskraag in die ru-oliehandel met sy “petrodollar” om sy internasionale krag te onderhou en Sjina is besig met ‘n strategie om daardie posisie te bekom. Grootskaalse ru-olie aankope is vanaf Rusland gedoen in yuan maar ander olieproduserende lande se vertroue in die yuan as betaalmiddel ontbreek nog. Sjina het besluit om nou sy geldeenheid by olieaankope met gouddekking te ondersteun.

Die toetrede van die yuan as voorste internasionale geldeenheid sal die dollar se waarde bedreig maar goud se waarde waarskynlik verhoog. Goud mag dus toenemend ‘n beleggingsalternatief word vir die wat nie in die bitcoin wil belê nie.