Gigaba kaap tesourie

Bewerings in die media dat die minister van finansies, Malusi Gigaba, besig is om Nasionale Tesourie (NT) te kaap deur ʼn parallelle administrasie in sy eie kantoor te skep, is baie ernstig, en die VF Plus heg nie veel waarde aan die minister se ontkenning daarvan nie, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Luidens die berig het Gigaba sowat twintig personeellede vir dié doel byeengebring wat reeds belangrike funksies van NT oorgeneem het. Van die persone het noue bande met die Gupta-familie. Die inligting hieroor is glo aan die media gelek deur ontevrede senior amptenare by NT.

Aan die hand van die berig en bewerings daarin het adv. Alberts geskrewe parlementêre vrae aan die minister gerig waarin onder meer gevra word of die minister enige veranderinge aanbring wat die magte van die direkteur-generaal van NT gaan beïnvloed.

Die minister het al die beweringe in ʼn enkele sin ontken.

Adv. Alberts sê die ANC-regering het reeds herhaaldelik bewys dat hy geensins vertrou kan word nie, en dat selfs die minister ʼn gereelde gas van die Guptas was.

“Teen hierdie agtergrond kan geen waarde geheg word aan die minister se ontkenning nie. Die berig het detail-inligting oor die aangeleentheid bevat, met die name van die betrokke persone. Uit die minister se antwoord is dit duidelik dat hy iets wegsteek.

“Die VF Plus se mening is dat ʼn proses van ʼn parallelle tesourie ontbloot is en dat minister Gigaba en sy meelopers nou deur ʼn ondersoek na die effektiwiteit van die inkomstediens daar wil huis skoonmaak om hul eie kaders te ontplooi,” sê adv. Alberts.

Foto: Malusi Gigaba