EU druk Brittanje oor finansiële verpligting

Die Europese Unie (EU) het Brittanje die afgelope naweek daaraan herinner dat die tyd besig is om uit te loop om ’n finale ooreenkoms te tref oor sy finansiële verpligtinge teenoor Europa.

Die EU woordvoerder het gesê die lidlande gaan nie veel langer wil wag nie, en wys daarop dat die Verenigde Koninkryk selfs soveel as €60 miljard sal moet opdok.

Die twee partye moet in Januarie glo finaliteit bereik oor die bedrag en wyse van betaling tydens hulle eerste vergadering in die nuwe jaar,

Die egskeiding het Londen en Brussel in konflik met mekaar gebring oor die bedrag wat ter sprake is, wat die spanning verder verhoog omdat ’n bykomende vergadering geskeduleer is vir 14 Desember om te onderhandel oor hoeveel die Verenigde Koninkryk se verpligting behoort te wees.

Die egskeiding moet in alle fasette afgehandel wees in Maart 2019, en kenners is bekommerd dat die gesloer reeds te lank geduur het.

Die Verenigde Koninkryk het in ’n referendum met ’n meerderheid van 52% besluit om uit die Europese Unie te tree, wat die destydse eerste minister, David Cameron, laat besluit het om uit die politiek te tree.

Die Britse eerste minister, Theresa May, verkeer tans onder geweldige druk aangesien haar ministers en parlementslede nie almal tevrede is met haar onderhandelings nie, terwyl verskeie ministers ook onder skoot gekom het weens hulle swak optrede teenoor vroulike kolegas.

Foto – Premier Theresa May