Duisende staar hongerdood in gesig

Die humanitêre krisis in die oorloggeteisterde Jemen het nou ’n nuwe krisispunt bereik en kan ’n grootskaalse uitwissing van veral kinders teweegbring indien voedselhulp nie dringend aangebied word nie.

Met die jongste gebeure waarin Saoedi-Arabië die toegangsroetes nou blokkeer, word die lewens van meer as ’n miljoen inwoners bedreig.

’n Hongerdood staar die land se mense in die gesig nadat Saoedi blokkades van land- en lugroetes ingestel het.

Die Verenigde Nasies het saam met twintig hulporganisasies ’n dringende versoek gerig tot Saoedi-Arabië om behulpsaam te wees.

Intussen het president Emmanuel Macron van Frankryk ’n blitsbesoek aan Saoedi-Arabië se kroonprins Mohammed gebring en hom versoek om kalm op te tree.

Indien Saoedi nie gehoor sou gee aan die tientalle oproepe nie, sal die hongerdood van duisende mense in Jemen waarskynlik die grootste wees wat die mensdom nog ooit getref het.

Saoedi-Arabië het die toegangsroetes geblokkeer in ’n poging om die verskaffing van wapens aan die Houthi-rebelle vanaf Iran teen te staan.

Die regering van Iran steun blykbaar die rebelle se geloofstryd in Jemen, maar die regering ontken die aantygings.