Bly eerder weg

Beste ou Frikman (Lotz), Man, vreeslik dankie vir jou brief in die Vryburger van 2 November, waarin jy sê dat dit seker algemene kennis is dat ons Metsimaholoiaane een van die dae moet gaan tussenverkies.

Ek het dit sowaar nie geweet nie. Dat ons moet gaan tussen nie. Verkies nie.

Ewentwel, jy sê dat elke ou wat gelyk met die ander ou wil wees, net maar vir die VF+ sal kan stem. “Gelyke geleenthede” noem jy dit. Elke ou? Dus Simon Tshabalala ook? Want ons is mos almal deesdae gelyk. Veral sekeres van ons.

Of sê nou maar ou Julius Malema daag by die stembus op, en sweer hoog en laag in rooi dat hy ook ‘n Metsimaholoïet is en wil stem? En dat hy VF+ wil stem? Want dis mos die “logiese keuse” vir ons gelykes, a la jy? Gaan ons VF+-man, of jy, hom keer, of ter wille van die aantal stemme, maar oë toeknyp en hom laat stem? Of, gaan hy/julle dit maar toelaat om tog — hemele val op ons!; berge bedek ons! — asseblief net nie ‘n “rasse-insident” te skep nie? Om “rassiste” genoem te word nie?

Maar verder: hierdie tussenverkies gebeur onder die ANC se “Grondwet”, daardie ateïstiese een wat God nêrens in hom erken nie. Soos dit darem nog was met die Witmense se Grondwet, daardie een wat nog in die verskriklike apartheidstyd was, al was daar sedert 7 September 1966 nie meer apartheid in die land nie. Kom ons glo en aanvaar en vertrou onse VF+-man word verkies, dan moet hy, om hierdie pasverkose job van hom te mag doen, trou sweer aan daardie apartheidlose, Godlose “Grondwet”. Dan moet hy sê dis ‘n oulike en ‘n wonderlike en ‘n fantastiese wet daai; dan moet hy sweer dat hy dié ding sal eer en eerbiedig en doen wat dit voorskryf. Dus sal hy sy eie Afrikaner-mense moet uitskel as kriminele, want dis wat daardie Grondwet, waaraan hy sê hy glo, en waaraan hy sopas trou gesweer het, sommer reeds in sy aanhef sê; daar waar dit praat van Suid-Afrika se, glo, “injust” verlede. Onthou, hy het gesweer dat hy dié ding sal eerbiedig.

Of, sê nou, soos nou die dag in Potgietersrus se Raad gebeur het, onse Metsimaholoiaanse Raad besluit ook om een of ander swarte te vereer, maar as onse VF+-man dan vra dat ‘n minuut van stilte ook gehou word vir vermoorde plaasboere en slagoffers van vandag se plaasterrorisme, sy swart Raadskollegas dit dan honend weglag, gaan onse verkose VF+- man dan maar ter wille van die gatsak in die Raad bly sit, of gaan hy uitstap, permanent, om sy protes te toon? Gaan hy, om sy protes opreg te toon, dan bedank, om weer ‘n tussenverkies af te dwing?

En gaan onse Party-leier, dr Pieter Groenewald, dán bereid wees om my vrae hieroor aan hom te beantwoord?

Nee wat, ek bevuil nie my hande deur eers te raak aan die ANC se tussenverkiespotlood nie. Ek toon liewers die sterkste protes wat ek kan. Ek bly weg.

Piet Pompies

Metsimaholo