Aardbewing ruk Midde-Ooste

’n Hewige aardbewing wat 7,3 op die Richterskaal registreer, het op die grens van Iran met Irak die dood van meer as 350 mense van Iran veroorsaak.

Honderde mense het beserings opgedoen toe geboue ineen gestort het naby die grens met Irak waar slegs 10 mense omgekom het en sowat 160 beseer is.

Die eerste berigte dui daarop dat sowat 2 600 mense van Iran ernstige beserings opgedoen het met een van die hewigste aardbewings wat die streek nog getref het in die afgelope dekade.

Reddingswerkers meen die dodetal gaan verder styg omdat al die puinhope nog nie deursoek is nie.

’n Woordvoerder van die reddingswerkers sê dit was moeilik om die dorpies te bereik waar die grootste skade aangerig is omdat grondverskuiwings die paaie beskadig het en op sommige plekke diep gleuwe in die grond gelaat het.

Iran het 30 Rooi Kruis spanne na die gebied gestuur om bystand te verleen terwyl werkspanne probeer het om groot kragonderbrekings te herstel.