Wat nou premier Rajoy?

Alhoewel die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, vroeër gesê het hy voer nie gesprek met die separatiste van Katalonië nie, is die bal weer aan sy kant nadat die president van Katalonië in sy parlementêre toespraak die onafhanklikheidsverklaring uitgestel het tot dialoog gevoer is met alle partye.

In ’n volgepakte parlement het die streek se president, Carles Puigdemont, gesê die gebied het volgens die internasionale vereistes opgetree tot ’n referendum gehou is, en daarmee ’n regverdige uitslag gekry wat Kataloniërs tot onafhanklikheid neem.

Om konflik te vermy, word die verklaring uitgestel tot dialoog met die onwillige Spaanse regering gevoer is, asook met ander belanghebbende partye.

Carles Puigdemont het egter ’n duidelike boodskap aan Spanje gegee: die onafhanklikheid van Katalonië word met enkele weke uitgestel, maar beslis nie onbepaald nie.

Met die stelling het die president ’n lansie gebreek vir sy mense, want konflik en geweld is nie deel van die strategie nie, en premier Rajoy kan nie onbepaald weier om met Katalonië gesprek te voer sonder om in die oë van die wêreld in onguns te raak nie.

Intussen het die Spaanse premier Rajoy gevra die Kataloniese regering moet die “onduidelikheid” uit die weg ruim en sê of onafhanklikheid verklaar is al dan nie, want as dit is, sal die Kataloniese regering tydelik van hulle pligte onthef word ingevolge Artikel 155 van die Spaanse grondwet.

Foto – Parlementsgebou