VSA: Brande vernietig honderde geboue

Hewige brande in die wynbou gebied van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het reeds meer as 2 000 geboue vernietig terwyl wingerde geheel en al vernietig is oor ’n wye gebied.

Winde jaag die vlamme teen ’n ongekende spoed oor die plase, en bemoeilik dit om met helikopters en waterdraende vliegtuie die vure te bestry.

Meer as 20 mense het reeds omgekom, en honderde is dakloos nadat al hulle besittings deur die meters hoë vlamme verteer is.

Die bestryding word verder bemoeilik omdat die vure op 15 verskillende plekke woed terwyl sekere gebiede ontoeganklik is weens die bergagtige terrein.

Sowat 30 000 mense is in die noorde van Kalifornië beveel om die gebied te verlaat, en die moontlikheid dat die talle brande gou onder beheer gebring sal word, is uiters skraal.

Deskundiges is met ondersoeke besig om die ontstaan daarvan te bepaal aangesien die moontlikheid van weerlig uiters skraal is.