Spanning in Spanje bereik hoogtepunt

Byna ’n miljoen mense het die afgelope naweek in Barcelona, die hoofstad van Katalonië hul steun bewys aan die Spaanse regering se standpunt van ’n onverdeelde Spaans staat.

Dit blyk egter dat duisende mense wat afkomstig is uit Spanje, die optog meegemaak het om ’n “verenigde Spaanse staat” te propageer.

In teenstelling daarmee het die Kataloniese president, Carles Puigdemont, gesê die uitnodiging om dialoog te voer staan steeds, maar as Spanje weier, word Katalonië onafhanklik verklaar sonder dat enige gesprek gevoer is.

Die spanning is op breekpunt. Katalonië vra gesprek en sê 90% het in die referendum “ja” gestem vir onafhanklikheid, maar die teenstanders sê hulle het nie aan die stemming deelgeneem nie, want dit is onwettig.

Die regering van Spanje wys daarop dat slegs 43% van die kiesers in Katalonië gestem het en wil eerder ’n verkiesing hou in die deelstaat sodat ’n nuwe regering saamgestel kan word.

Die hoop bestaan dat die huidige regering uit die kussings gelig sal word en die referendum se uitslag nietig verklaar sal word.

In Madrid het sowat 350 000 mense hulle solidariteit met die Spaanse standpunt betoon in ’n afsonderlike optog waartydens honderde Spaanse vlae vertoon is.