Spaanse kabinet hou dringende vergadering

Die Spaanse premier, Mariano Rajoy, het Woensdag ’n baie dringende vergadering belê van die ministersraad om te beraadslaag oor die volgende stappe wat geneem moet word nadat Katalonië se onafhanklikheid bevestig is, maar tydelik uitgestel word.

Die Spaanse visepremier, Soraya Sáenz de Santamaría, het die aankondiging Woensdag gemaak na aanleiding van Katalonië se president, Carles Puigdemont, se uitgestelde onafhanklikheidsverklaring.

Sy het die verklaring van president Carles Puigdemont as “onaanvaarbaar” bestempel, en gesê dit is die rede waarom ’n dringende vergadering belê is.

Waarnemers is van mening dat Katalonië se optrede strategies korrek is en paniek veroorsaak het in die Spaanse minderheidsregering van Mariano Rajoy.

Verskeie internasionale meningsvormers is van oordeel dat dialoog met Katalonië uiters noodsaaklik is en weiering om daaraan del te neem die separatiste se saak versterk.

Meningsvormers sê Spanje het ’n agterstand opgebou toe sy polisie gewelddadig opgetree het teen onskuldige mense, en het toe ’n tweede fout begaan deur dialoog te weier deur ’n onmoontlike voorwaarde te stel dat Puigdemont eers die referendum nietig verklaar voor gesprek gevoer kan word.

Foto – Premier Mariano Rajoy