Skotte moet wag met onafhanklikheid

Skotland se eerste minister, Nicola Sturgeon, is deur haar kollegas versoek om nie nou die referendum vir onafhanklikheid te hou nie.

Hulle het haar versoek om die stemdag uit te stel vir minstens twee jaar sodat haar Skotse Nasionale Party kan fokus op Brexit wat eers afgehandel moet word.

Die parlementariërs van die Skotse Nasionale Party reken die kans moet ook benut word om meer kiesers se steun te werf ten einde ’n oortuigende uitslag vir onafhanklikheid te kry wanneer die referendum gehou word.

Tydens sy toespraak by die Nasionale Party se konferensie wat in Glasgow gehou is, het Ian Blackford, die leier in Westminster, gesê dat premier Sturgeon eerder voorbereiding moet doen om met die Verenigde Koninkryk te onderhandel oor die skeiding met die Europese Unie wat sal duur tot 2021.

Hy sê om nou ’n datum vir die referendum vas te maak is om die kar voor die perde te span, en die party wil eerder eers sien wat met Brexit gebeur.

Die party se leiers is van mening dat die kiesers nog nie gereed is om ’n finale besluit oor onafhanklikheid te neem solank as Brexit se uitkoms nog in die lug hang nie.

Foto – Nicola Sturgeon